Lid van Belgiese Parlement sê haar steun toe vir die Afrikaanse taal

Afrikaanse taal

Afrikaans-pleidooi oorsee
2012-01-15 21:22

http://www.beeld.com/Wereld/Nuus/Afrikaans-pleidooi-oorsee-20120115

Delft (Nederland). – ’n Vlammende pleidooi is gister hier gelewer dat die Nederlandssprekendes in die Lae Lande druk op die Suid-Afrikaanse regering moet uitoefen om sy grondwetlike pligte oor Afrikaans en die ander inheemse tale na te kom.

Prof. Wannie Carstens, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad, het op ’n byeenkoms van die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Werk­ge­meenschap gesê as die Nederlandse en Vlaamse parlement aan die Suid-Afrikaanse regering kan sê hulle is bekommerd oor die posisie van die Afrikaanse taal, “kan dit ongelooflik belangrik wees”.

Volgens Carstens is die kern van die probleem ’n gebrek aan politieke wil by die ANC om die Grondwet na te kom. Hy het egter beklemtoon dat Afrikaans se toekoms nie net by wit mense lê nie, maar ook by hul bruin taalgenote.

Hy het ’n beroep op Nederlandssprekende vriende van Afrikaans gedoen om in hul kontak met die ANC nie net van “Afrikaners” te praat nie, want “dan slaan die ANC soos ’n boek toe”.

“Praat liewer van Afrikaanssprekendes”, het hy gepleit

KOMMENTAAR VAN DR. RITA DE BONT OP TOESPRAAK VAN PROF. CARSTENS

Dr. Rita de Bont het tydens ‘n Internasionale Nederlandse Zuidafrikaanse Werkgemeenskap simposium die afgelope Saterdag in Delft (Nederland) die belangrikheid van Afrikaans se verbintenis met Nederlands beklemtoon. Dr. de Bont het 20 jaar in Suid-Afrika gewerk.

Die Vlaminge is betrokke in onderwys projekte wat ‘n uitruilstudent-skema insluit tussen Vlaandere en Suid-Afrika. Volgens dr. de Bont word die belangrikheid van moedertaal onderrig bevorder. Die klem van die projek is om die meerwaarde van Afrikaans te beklemtoon. Die meerwaarde van ‘n kennis van Afrikaans gee die spreker ‘n “oor” in Wes-Europa, toegang tot Vlaandere en Nederland. Afrikaans kan beskou word as ‘n naelstring met die wêreldgemeenskap.

Die ekonomiese meerwaarde van die Afrikaanse taal as ‘n saketaal kan bevorder indien meer sakeverhoudings in Afrikaans/Vlaams plaasvind.Die parlementslid is ‘n voorstander dat al meer amptelike kommunikasie van België met Suid-Afrika in Vlaams gedoen moet om sodoende Afrikaans te bevorder.

Die suksesvolle stryd van Vlaams vir taalregte teen Frans moet Afrikaners motiveer.